Die Laat-Devoon-uitwissing was een van die "Groot Vyf" uitwissings in die Aarde se geskiedenis. ’n Groot uitwissingsvoorval, die Kellwasser-voorval, het sowat 374 miljoen jaar gelede, aan die begin van die laaste fase van die geologiese periode Devoon, plaasgevind.[1][2] Altesaam 19% van alle biologiese families en 50% van alle genera het uitgesterf.[3] ’n Tweede voorval, die Hangenberg-voorval, het die Devoon afgesluit.[4]
Hoewel dit duidelik is dat daar ’n enorme verlies aan biodiversiteit in die Laat-Devoon was, is dit onduidelik hoe lank dit geduur het, met skattings van tussen 500 000 en 25 miljoen jaar.[5] Dit is ook nie seker of dit net uit bogenoemde twee fases of ’n reeks kleiner uitwissings bestaan het nie. Die jongste navorsing dui op verskeie oorsake en ’n reeks fases oor sowat 3 miljoen jaar.[6] Sommige wetenskaplikes reken daar was tot sewe fases oor ’n tydperk van 25 miljoen jaar.[7]
Teen die Laat-Devoon het plante en diere die land beset. In die oseane was enorme koraalriwwe. Euramerika en Gondwana het begin verenig in wat een superkontinent, Pangea, sou word. Dit lyk of net die seelewe deur die uitwissing geraak is. Koraalriwwe het feitlik heeltemal verdwyn en het eers weer tydens die Mesosoïese Era begin vorm.[3]
Die rede vir die uitwissing is onseker. Van die teorieë sluit in veranderings in die seevlakke en die uitputting van suurstof in die oseane, wat veroorsaak kon gewees het deur vulkaniese aktiwiteit of globale verkoeling. Die impak van ’n komeet of ander hemelliggaam is ook al voorgestel.[8]
© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search